Ons Roeping

Marius en Amanda Storm is in 1992 uitgestuur na Nederland om as direkteurspaar van IKEG nie-gelowige kinders met die evangelie te bereik.

Die afgelope jare het Marius se bedieningsgerigtheid stelselmatig verander. Hy het hom al hoe meer op toerusting en opleiding toegelê. Die verandering is deur verskeie faktore teweeg gebring. Daar is byvoorbeeld ‘n groot behoefte aan nuwe, Bybelgetroue geestelike leiers en werkers. Die deurslaggewende oortuiging het in hom gegroei dat dit die wil van die Here is dat hy al sy tyd en krag aan die toerusting van kinderwerkers en ander gelowiges moet wy. Dit is noodsaaklik om ‘n nuwe geslag leiers op ‘n Bybelgetroue en diepsinnige manier toe te rus om weer op hulle beurt die Evangelie aan ‘n verloregaande wêreld te verkondig. Marius is nou ook die voorsitter van Veritas College Nederland en direkteur van ontwikkeling in Europa.

Intussen kon Marius en Amanda die leierskap van IKEG oordra aan Marco en José Baan. Marius begelei Marco nog maar is dankbaar dat die Here hulle geroep het om die werk oor te neem en te lei.

Veritas het ten doel om gelowiges toe te rus om die Woord van die Here reg te verstaan – om dit reg uit te lê en toe te pas. Hierdie kennis tot korrekte interpretasie van God se Woord is hedendaags ‘n groot behoefte in Nederland en Europa, omdat kerke en gemeentes al hoe verder weg beweeg van die Waarheid van die Bybel en al hoe meer onder die invloed kom van humanisme en die sosiale wetenskappe. Die aanbieding van Veritas kan plaasvind op ‘n Bybelskool, in gemeente verband en in kleinere groepies. Omdat daar verskillende modules in Veritas bestaan, kan die belangstellendes persoonlike begeleiding ontvang en selfs ‘n diploma of graad ontvang. Die uitdaging is dus groot en hulle ervaar die seën van die Here in hulle werk.

Bekendstellingspamflet

Bekendstelling – Stormpies

Fotos

Kontak ons!