Die Situasie in Nederland
Europa word ook die moeilikste sendingsveld ter wêreld – dit is ook waar van Nederland! As die kerk nie ‘n antwoord het vir die post moderne mens in Europa nie, dan lyk die toekoms maar somber vir die wêreld, want die hele wêreld beweeg in die rigting van die post christelike westerse wêreld. Peter Wagner het selfs gesê dat die 10-40 venster vergroot moet word om Europa in te sluit, omdat dit so ‘n groot sendingsveld word. Ten spyte van die feit dat Nederland een van die kleinste lande ter wêreld is, is hy ‘n wêreldleier in nie-Christelike waardes en ‘New Age’ filosofieë. Wat vandag in Nederland besluit word, is oor 10 – 15 jaar wêreldwyd aanvaarbaar. U sal merk dat die dinge wat nou die afgelope 10 jaar in Suid-Afrika skeef begin loop het op morele en geestelike terrein al lankal hier ‘n feit is.
Nederland is een van die mees digsbevolkte lande ter wêreld en 88% van die bevolking het verstedelik. Al hierdie dinge het ‘n geweldige maatskaplike en geestelike invloed op die kinders!
Die kinders aanvaar geen gesag meer nie en die opvoeding van ouers het ver weg beweeg van ‘n Bybels gefundeerde opvoeding. Daar is reeds 70 laerskole in Nederland waar die kinders self beslis wat hulle wil leer en daarom stel hulle self die leerplan saam.
Die samelewing het weg beweeg van ‘n gesagshuishouding na ‘n onderhandelingshuishouding. Die gevolg hiervan is dat die kind wat ouer is as 12 jaar self bepaal wat reg en verkeerd is. Het ‘n kind van hierdie leeftyd die onderskeidingsvermoeë om dit te weet? Ons glo dat die Bybel kinders die regte antwoorde gee vir hulle lewe. Ons glo dat die Woord van God aan die kind in Europa weer hoop, liefde en vrede sal gee.